26/04/2024
DIE GEVARE VAN ROOI SPINNEKOP MYTE
Voorheen het ons dit sommer net genoem rooi spinnekop en hierdie pes is al so oud en nog ouer as wat ek tuinmaak. Ons gaan vandag ondersoek instel hoekom hierdie insekkie elke jaar terugkom na jou tuin en hoekom hy so moeilik uitgeroei word.
Rooi spinnekop myte is miniatuur klein en nie sigbaar vir iemand met swak oë nie en is deurskynend rooi van kleur, en die skade is eers sigbaar wanneer die tuinier die spinnekop rakke waarneem op die plante se blare. En dan is dit al lankal te laat vir redding. Hierdie Kleine rakker oorwin jou met sy getalle, sy lê +3000 eiers elke 48 uur en neem 48 uur om uit te broei. En elkeen van hulle suig suikers uit jou plant se blare,vinniger en erger as wat ‘n hans lammetjie sy bottel kan leegdrink.
Dus, moet die tuinier weet watter plante word eerste aangeval en hoe om hierdie uitgesuigde tekens waar te neem, sodat betyds kan opgetree word. Hierdie probleem neem toe met temperature van bokant 27 grade Celsius en wanneer die grond warm en droog bak in die son. Daarom is ‘n grondkombers rondom hierdie plante so noodsaaklik.
In die tuin is dit die rose wat eerste tekens wys, maar dit kan ook sprei na varkore, agapanthus, Berkebome, en enige kruipende plant op die grond. In die groentetuin is dit die boontjies, spinasie, tamaties, patty pans en veral of mint blare. En as die spinnerakke alreeds tekens wys, dan raak dit tyd om die plant stompaf te knip om van dit ontslae te raak.
Maar ek stel meer belang in die voorkoming as in die beheer, omdat ek nie elke 48 uur vir 3 – 4 weke lank wil gif spuit nie. Die tye wanneer hierdie insekkie begin kop uitsteek, is wanneer die temperature in laat Augustus skielik begin styg, of met baie reën in die vroeg somer, of met baie reën in die herfs. Maar droogte en hitte op die grond is die grootste rede. Hierdie miniatuur spinnekoppie is ‘n suigende insek en hy eet fotosintering suikers soos lekker sjokolade, en hoe meer suikers hy kan uitsuig, hoe vinniger teel hy aan.
Dus, raak ontslae van die oortollige fotosintering suikers op jou plante se blare, om hom te inhibeer. Dit kan gedoen word deur die mineralisasie proses aan te wakker sodat die suikers kan omskakel na plant lipiede, en hy kan nie eet nie, dus ook nie aanteel nie. Spuit weekliks Trelmix as blaarvoeding, en tesame daarmee, gooi jou kompos ekstrak water oor die grondkombers. As dit te veel gereën het en die grond is kompak, dan moet daar suurstof tonnels in die grond gemaak word met die vurk. Sodra mineralisasie plaasvind, sal die plant sy fotosintering suikers omskakel na plant lipiede (vette en olies) en hierdie insekkie sal verstopte dikderms ontwikkel as hy dit moet opsuig. Dus, sterf hy uit van hongerte.