15/03/2023
Wellington Noord Inwoners
Ten spyte van al die voorsorgmaatreëls wat Freddie (Le Rouxstraat 17) getref het, is daar 13 Maart by sy garage ingebreek en waardevolle items is gesteel.
Freddie het nie lank terug sy mure en voorhek verhoog tot 2 meter nie. Hy het kameras en 'n alarm geïnstalleer asook 'n boerboel en 2 honde aangeskaf. Voor sy garage het hy ook tralies aangebring.
Nie enige van hierdie maatreëls het verhoed dat die diewe hom geteiken het nie.
Ons is seker dat hier baie van u is wat ook van hierdie voorsorgmaatreëls al getref het by u woning. Dalk is daar van u wat selfs nog van ander maniere ook gebruik maak.
Wat belangrik is, is dat ons moet besef dat 'n mens nooit genoeg of te veel kan doen as dit kom by jouself en jou familie se veiligheid nie.
As Buurtwag wil ons 'n vriendelike, dog ernstige beroep op ons inwoners doen om ten alle tye waaksaam en paraat te wees en om met mekaar saam te werk om ons omgewing vir onsself veiliger te maak.
As u honde in u omgewing hoor blaf, staan op, kyk, stel ondersoek in. Gesels met u bure en vra aan hulle of alles reg is by hulle. As hulle honde nooit blaf nie, maar vanaand doen hulle, maak kontak met hulle. Bel die polisie as u onveilig voel, nie u bure ken nie of te bang is om u huis te verlaat, maar wel onraad vermoed in u omgewing.
Tans is daar slegs *7* aktiewe lede wat saans uitgaan op patrollie. Twee van hierdie lede werk skofte en die ander werk voltyds, so dit is nie vir hul moontlik om elke aand aan die patrollie deel te neem nie. Hulle word ook nie betaal vir hulle diens nie. Ons wil net baie dankie sê aan hul wat getrou op hul pos is. Hoe groot sou die impak nie kan wees met ekstra hande nie? Jy hoef nie elke aand te help nie. Vele hande maak ligter werk.
Ons wil 'n beroep op ons inwoners doen om betrokke te raak by ons buurtwag en sy aktiwiteite. Ons almal weet voorkoming is beter as genesing. Hoe meer mannekrag, hoe meer kan die buurt teen misdaad beskerm word en hoe ligter is die verantwoordelikheid op elke lid wat deel is van die patrollie.
Ons hoop nie dat ons pleidooi op dowe ore val nie. *Eergister was dit Freddie...*
*môre kan dit dalk een van ons wees* Kom ons wees paraat en voorbereid en help mekaar om veilig te wees!
Buurtwag bestuur